CARELS IN UNIEKE VOEDSELPRODUKSIESKEMA

VANDERBIJLPARK. – Die HTS Carel de Wet is een van die eerste skole in Suid-Afrika wat in ‘n vennootskap met Air Products en Inmed een van die grootste innoverende voedselproduksieskemas (Akwaponika) begin het op hul hoewe buite Vanderbijlpark

Op 28 Augustus is een van die grootste Akwaponika-eenhede op die hoewe van Carel de Wet buite Vanderbijlpark tydens ‘n spoggeleentheid geopen. Vir Air Products, die hoofborg van die projek, gaan die korporatiewe maatskaplike belegging (KMB) om verantwoordelikheid te aanvaar vir die toekoms. Dit beteken om na vandag se kinders en jeug om te sien. Die maatskappy het gekies om sy tyd en hulpbronne in onderrigverwante programme te belê, in ‘n poging om hoop en selfstandigheid onder Suid-Afrika se ekonomies benadeelde jeug te bevorder.

Air Products het die borgskap van ‘n projek in vennootskap met Inmed Suid-Afrika geloods en het Carel de Wet betrek met die doel om die probleem van armoede en honger in Suid-Afrika se landelike gemeenskappe aan te spreek. Dit met streng klem op volhoubaarheid en gemeenskapsbetrokkenheid.

Inmed se “Partnership for Children” is ‘n internasionale organisasie wat die toekoms van honderdduisende kinders en hul gesinne omskep deur te fokus op gesondheid, vaardigheidsontwikkeling en die koester van gemeenskapsamewerking.

Een van die nuutste programme is die ontwikkeling van akwaponika, ‘n innoverende voedselproduksiestelsel wat met sukses uitdagings soos swak grondtoestande en spasieprobleme in ekonomies benadeelde gebiede, asook breërstrekkende kwessies soos waterskaarsste, aanspreek.

Akwaponika is ‘n intensiewe voedselproduksietegniek wat akwakultuur (visboerdery) en hidroponika (om plante te kweek sonder grond) te kombineer. Dit is ‘n geslote stelsel waardeur die voedingstowwe vanuit vistenks met gruisgroeibeddings voed, wat ook dien as ‘n filter vir die viswater wat dan skoongemaak, geoksideer en dan terug in die tenke gepomp word. Die vistenks en gruisplantareas ‘voer’ mekaar op dié sikliese en sinergistiese wyse, met gevolglike voortdurende plant- en proteïenproduksie wat baie min invloed op die omgewing het.

Inmed en Air Products het saam met HTS Carel de Wet Vanderbijlpark gekies as die ligging van die nuutste akwaponika-eenheid. Die skool, wat landbou as vak aanbied, het sy eie landbougrond wat gebruik word om die kinders, wat meestal uit ’n ekonomies benadeelde agtergrond afkomstig is, te leer hoe om op ‘n volhoubare en omgewingsvriendelike wyse voedsel te kweek.

“Daar is baie potensiaal vir akwaponika in hierdie land en dié projek sal ons kinders leer hoe dit werk, hoe om hulle eie voedsel te kweek en ook hoe om voedsel op grootskaal as ’n kommersiële onderneming vir die skool te produseer,” sê Gawie Richter, hoof van Carel de Wet.

Die akwaponika-projek kan moontlik twee ton vis produseer, wat 26 ton groente jaarliks tot gevolg kan hê en dit maak die projek regdeur die jaar kommersieel lewensvatbaar.

“Die stelsel, tans die grootste wat Inmed in Suid-Afrika aangepak het, het ‘n ingeboude kweekhuis om regdeur die koue seisoen volgehoue vis- en groenteproduksie te verseker.

“Die feit dat dit tonnels gebruik beteken dat akwaponika nie kwesbaar is vir weerfaktore en klimaatsverandering nie, wat bydra tot die langtermyn lewensvatbaarheid daarvan,” sê dr. Linda Pfeiffer, Inmed-president

“Ons hoop dat dié projek ‘n hele nuwe generasie boere sal inspireer en oplei,” het Josua le Roux, hoofbestuurder –  Sentrale ondersteuning by Air Products Suid-Afrika, sy toespraak afgesluit.

Source: vaalweekblad.com